Riana Nel LIVE in PE!

Please Note: This event has already taken place. Please check our events list for current events.
07 July 2012 - 07 July 2012
Akkoord in samewerking met BayFM 107.9 bring vir jou Riana nel en haar vol orkes Baai toe. Kaartjies beskikbaar by Westway Kafee. Kontak Hellen 041 365 0217. R100 pp

Op ‘n warm somersdag in 2009, het sangeres en liedjieskrywer Riana Nel op die gras by ‘n Angus Buchan geleentheid ontspan. Sy het so pas van Londen af terug gekeer en besluit om haar sangloopbaan te laat vaar. Terwyl sy sit en dagdroom om ‘n haarkapper te word, was sy salig onbewus van wat daardie dag vir haar sou inhou….

Die Namibiese skoonheid was vanaf ‘n jong ouderdom reeds aan musiek blootgestel. Komende uit ‘n baie musikale gesin het sy van vroeg af voor die klavier ingeskuif en haar talent en passie vir musiek was duidelik sigbaar. In 1996 het sy vir die eerste keer aan Crescendo, saam met Joe Niemand en die bekende komponis en liedjieskrywer Machiel Roets, deelgeneem . In 2000 het sy die beoordelaars betower en met die gesogte titel weggestap.

Haar gewildheid in Namibië het vinnig toegeneem en sy is ook as wenner by die Jubeljaarfees aangewys. Die wenners by die fees het almal op Pasella verskyn en dit is hier waar gospel sanger Louis Brits haar raakgesien het. Hy het haar gevra of sy sou belangstel om saam met hom te toer. Sy sou egter ‘n keuse moes maak tussen gospel musiek en die sekulere mark. Haar hart het haar net in een rigting gelei en sy het op 19 jaar haar tasse gepak en na Pretoria verhuis. Sy het saam met Louis as agtergrondsanger getoer, maar het talle kere self die gehoor met haar eie komposisies vermaak. So dat sy uiteindelik haar eie platekontrak by Maranatha losgeslaan het.

Maar nou hier, tussen duisende mense, het Riana nie nostalgies geraak oor haar verlede as musikant nie. Sy het altyd gedink sy gaan vir ‘n grafiese ontwerper studeer of tornados in Amerika gaan jaag (net soos in die rolprent,“Twister”). “Alles werk ten goede uit vir die wat hom liefhet”. Die bekende bybelvers lui in haar kop. God het reeds haar pad vir haar beplan, sy moet nou net luister in watter rigting sy moet stap. En so klim Angus Buchan tydens pouse van die verhoog af, en stap reguit op haar af…

Met die sukses van haar eerste album, Oopmond het sy besluit om die waters oorsee te gaan toets. Haar nederigheid en onwrikbare passie het talle harte in London, Holland, Frankryk en Engeland verower en sy het ook ‘n Europese verspreidingskontrak met Authentic geteken. Terug in Suid-Afrika maak sy in 2001 verder opslae by die Geraas Toekennigs, waar sy as beste nuwe kunstenaar saam met Karen Zoid, asook beste Gospel Sanger aangewys word. Die Lier toekenning wat sy vir Beste Vroulike Vokaal en Beste Nuwe Kunstenaar ontvang het was ook geen verrassing nie.
Haar tweede album, “The Cure” asook haar derde album, “Someone with Skin” was meer Engels en op die oorsese mark gerig, maar dit is steeds in Suid-Afrika opgeraap.

Sy sit meteens regop toe sy besef Angus is oppad na haar toe. “I hear you can sing. I think it’s time you played a song for us”. Angus se woorde het haar stomgeslaan. Maar sy staan noodgedwonge op en stap in die rigting van die verhoog. Sonder haar geliefde kitaar of enige voorbereiding, gaan staan sy voor duisende oë en ore wat op haar wag. Sy leen haar vriend, Ricus Nel wat op die verhoog staan se kitaar en neem haar plek agter die mikrofoon in. Sonder ‘n klanktoets, neurie Riana een noot…haar warm, sielvolle stem vul die lug en mense staar in verwondering. Die gevoel is oorweldigend. In ‘n oomblik verdwyn haar vrees en onsekerheid oor die pad wat vir haar uitgelê is. Musiek is haar lewe, haar roeping, haar toekoms…

Riana het intussen by projekte saam met Retief Burger by die “Godly Revolution” en “Youth Revolt” bewegings betrokke geraak. Sy verskyn ook op die “Peacemaker” en Onbeskaamd albums. In 2010 het sy ‘n duet saam met haar suster, Nianell op haar album Sand & Water opgeneem.

In 2011 het Riana besluit dit is tyd vir ‘n wending in haar musiekloopbaan. Sy het hande gevat met die platemaatskappy, Coleske Artists waar sy haar buiging in die sekulêre mark gaan maak. Dit is ‘n unieke skuif aangesien meeste kunstenaars gewoonlik eers ‘n sekulêre album en dan ‘n gospel album opneem. Riana voel ook sy het nie haar waardes en geloof verraai deur af te wyk van die gospel mark af nie. Net soos haar gospel liedjies, bevat haar sekulêre album diep, hartroerende boodskappe wat veral op paartjies en selfs op enkellopendes gemik is.

Riana Nel se borrelende persoonlikheid en eindelose talent is ‘n wenkombinasie wat tot diep binne in jou siel kruip met haar lirieke en onvergeetlike vertonings. Sy laat jou lag, huil en wegstap met ‘n verrykende gevoel van emosionele oplewing. Hou vir Riana dop, sy gaan diep spore in almal se harte trap met haar sagte hart, nagtegaal stem en warm glimlag.

Contact Details

Contact Person: Hellen
Telephone: 041 365 0217
Website: http://www.facebook.com/events/219392398176651/
Email: riaanhanekom@hotmail.com

Where

Venue: Vodacom Ampitheatre, The Boardwalk
Event Address: The Boardwalk
Please Note: This event has already taken place. Please check our events list for current events.