TEKKIE TAX DAY
31 May 2013 - 31 May 2013
Tax
Kort opsomming oor 'n opwindende, nuwe fondsinsamelingsprojek.
Inleiding
Tekkie Tax is 'n fondsinsamelingsprojek vir 'n geselekteerde groep van ons land se grootste welsynsorganisasies. Uitgesoekte organisasies, met 'n geskiedenis van waardevolle dienslewering, is gekies as begunstigdes van hierdie projek.
Hoe werk dit
Die eerste Tekkie Tax projek sal plaasvind op Vrydag 31 Mei 2013. Die publiek sal aangemoedig word om 'n Tekkie Tax plakker by enige van ons deelnemende welsynsorganisasies te kry vir 'n donasie van R10.
Daar sal 5 verskillende plakkers wees om van te kies. Elkeen van die 5 verskillende plakkers sal 'n groep welsynsorganisasies verteenwoordig.
Persone wat deelneem sal kan kies watter een (of meer) van die 5 verskillende groepe hulle wil ondersteun:
A = Allerande Diere,
B = Basiese gemeenskapsdienste,
C = Cool Kinders,
D = Dienslewering aan persone met Gestremdheid
E = Essensiële Onderwys & Opleiding
Boodskap aan deelnemende individue en maatskappye
1. Kry toestemming by die baas dat jy en jou kollegas op Vrydag 31 Mei aan Tekkie Tax mag deelneem. Ek is seker hy/sy sal nie omgee dat julle vir een dag met tekkies werk toe kom nie . . . ?
2. Bemark die projek met ons gratis publisiteitmateriaal - plakkate en brosjures - net om seker te maak dat elke persoon in die kantoor sal weet van die projek en daaraan sal wil deelneem.
3. Kies die welsynsorganisasie groep/e wat jy en jou kollegas wil ondersteun en kry die toepaslike plakkers: (A) diere, (B) basiese gemeenskapsdiens, (C) kinders, (D) gestremdheid of (E) onderwys. Maak seker dat elkeen van jou kollegas 'n plakker het – onthou as jy nie die plakker dra nie word jou tone vir die hele dag saamgepers in jou kerk-skoene.
Geen plakker = geen tekkies!
4. Dra jou tekkies!! Noudat julle elkeen 'n plakker/s het, wys die wêreld waar jou hart lê deur jou plakker en jou paar gunsteling tekkies op Vrydag 31 Mei te dra. Plak die groot plakker op jou lapel en die kleintjie op jou selfoon.
Loop die ekstra myl en koop 'n stel 'Tekkie Tags' om seker te maak dat jou tekkies reg aangetrek is vir die geleentheid! Dollie jou tekkies op met ons
giggle-groen skoenveters en bypassende pers naamplaatjies. Dra dit met trots en wys vir die wereld dat jy (en jou tekkies) julle 'tax' betaal het – alles sodat jou gunsteling welsynsorganisasie daarby kan baat.
Kry jou paar Tekkie Tags vir 'n donasie van R30 -
met die plakker van jou keuse ingesluit!
Stuur 'n SMS – Jy kan ook 'n donasie vir die welsynsorgnisasie groep van jou keuse gee deur 'n R20 SMS vir ons te stuur. Dit kan jy enige tyd doen – so moet nie van ons vergeet aan die einde van die maand wanneer jy salaris kry nie! Dit kan eenvoudig nie makliker wees om te gee nie!
Begunstigdes
Om 'n fondsinsamelingsprojek aan te pak is baie duur, baie werk en vol slaggate vir die organisasie wat dit van stapel wil stuur. Met hierdie projek het ons 'n mengsel van die grootste en kleinste welsynsorganisasies in die land bymekaargebring om een groot veldtog te doen waar die publiek 'n keuse het van watter sektor hulle wil ondersteun met hulle donasie.
Op die lang duur sal dit baie geld spaar en sal 'n platform skep vir organisasies wat nie die infra-struktuur, fondse en kennis het vir 'n nasionale veldtog nie.
Al ons welsynsorganisasies is geregistreerde PBOs en lewer dienste in SA.
Die projek word ondersteun deur sommige van die grootste welsynsorganisasies in ons land:
• Kindersorg SA
• SOS Children's Villages
• CHOC (Childhood Cancer Foundation)
• Special Olympics SA
• Endangered Wildlife Trust
• HPCA - Hospice Palliative Care SA
• Imisebeyelanga Services
• Suid Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) en die lys gaan aan . . .
Verskillende afdelings van ons welsynsorganisasie-groepe:
Belangrike boodskap:
"Moet vir geen oomblik dink dat jy net een groep mag (of kan!) ondersteun nie.
Kry 'n plakker vir elkeen wat jou hart raak."
A = Allerhande Diere
Kom ons reik uit na ons vriende met pelse, pote en snorbaarde, die wat nie hulself kan beskerm nie. Van huisdiere tot wildediere en alles tussenin. Ons organisasies in hierdie groep lewer 'n diens aan alle diere – en ook aan die omgewing in die algemeen. Hou die planeet groen en reik uit na almal wat dit met ons deel – ongeag hoeveel pote hulle het!
B = Basiese Gemeenskapsdiens
Hierdie veld van dienslewering strek oor honderde organisasies wat verskeie behoeftes aanspreek, hoofsaaklik in die armste dele van ons samelewing. Nood word verlig in 'n wye area van dienste, insluitende bejaardes, kinders en persone wat gestremd is. Mense wat siek is, HIV Aids en algemene opheffing en verligting van nood word aangespreek deur ons organisasies.
C = Cool Kinders
Kinders het die reg tot 'n veilige omgewing waar hulle kan groei en ontwikkel tot verantwoordelike volwassenes wat hul bydrae kan lewer tot die samelewing. Ongelukkig is dit nie altyd die geval nie. Ons welsynsorganisasies in hierdie afdeling fokus op die behoeftes en veiligheid van ons kinders.
D = Dienslewering aan persone met Gestremdheid
Persone wat gestremd is, was nog altyd een van die mees afgeskeepte groepe in die wêreld. Hulle het al geleer dat om gelyk erken te word, jy baie beter moet wees as die mense om jou!
Niemand van ons is verhef bo die moontlikheid van gestremdheid nie en daarom probeer ons organisasies ook gestremdheid voorkom deur 'n gesonde en veilige lewensstyl te promoveer. Ons begunstigdes dek alle soorte gestremdhede en lewer dienste aan kinders sowel as volwassenes in elke hoek en draai van ons land.
E = Essensiële Onderwys en Opleiding
Geletterdheid is een van die grootste uitdagings in Suid-Afrika en tensy ons nie hierdie stryd wen nie, sal 'n klomp ander probleme by ons bly. Ons begunstigdes in hierdie afdeling fokus op vroeë kinderontwikkeling, opleiding van onderwysers en geletterdheid van volwassenes om almal die geleentheid vir 'n suksesvolle, onafhanklike toekoms te gee.
Contact Details
| Contact Person: | Jackie Serfontein |
| Telephone: | 0731484623 |
| Cellphone: | 0731484623 |
| Fax: | 0865394192 |
| Website: | www.tekkietax.co.za |
| Email: | foundation@friendlycityevents.co.za |
Where
| Venue: | NATIONAL EVENT |
| Event Address: | National Event |















Please wait!